Waardes
| Article Index |
|---|
| Waardes |
| Beginsels |
| All Pages |
1. WAARDES
- Jesus is Koning (Mattheus 28:18)
- Sy primêre behoefe is ‘n persoonlike, intieme verhouding met Sy kinders en Kerk.
- Sy primêre agenda is om die Koninkryk van God uit te brei… (Mattheus 6:9-10)
- Deur dissipels van al die nasies te maak (Mattheus 28:19)
- Sy sleutelagent is die plaaslike gemeente (Efesiërs 3:9-11)
- Die bediening van die plaaslike gemeente moet holisties wees (Kolossense 1:19-20)
- Die bediening van die plaaslike gemeente moet aan Christus gestalte gee (Joh 17:15-19)
- Die plaaslike gemeente moet doelbewus vanuit ‘n Bybelse wêreldbeskouing opereer (Kolossense 1:15-18)
Opsomming van Kernwaardes
ONS GLO… God is Skepper, Koning en Verlosser van mense. Sy grootste behoefte is om ‘n persoonlike en intieme verhouding te hê met elke individu afsonderlik (Sy kinders) asook kollektief met Sy kerk (Sy bruid).
Die primêre werkswyse is om die Boodskap van Versoening, wat Hy deur Jesus bewerkstellig het, deur middel van Sy dissipels na al die nasies te neem. Hierdie Boodskap van Versoening lei tot die vestiging van gemeentes.
Die plaaslike gemeente is Sy primêre agent, wat Christus in elke gemeenskap gestalte gee, deurdat hulle die geestelike, fisiese en emosionele nood, soos Jesus destyds, holisties en vanuit ‘n Bybelse wêreldbeskouing aanspreek.
Jesus is Koning (Mattheus 28:18)
ONS GLO… Daar is net een God wat ewig bestaan in drie persone: Vader, Seun en Heilige Gees (Deut. 6:4; Luk 3:21-22). Jesus Christus, die Seun van God is die Koning van die Konings en Here van die leërskare (Dan. 7:13-14; Ef. 1:20-22; Fil. 2:9-11; Opb. 19:16). Ons verklaar saam met die profeet Jesaja: "Aan die uitbreiding van Sy Koninkryk sal daar geen einde wees nie." (Jes. 9:7).
Sy primêre agenda is om die Koninkryk van God uit te brei…
(Mattheus 6:9-10)
ONS GLO… Christus se sentrale doel is om Sy Koninkryk te vestig en uit te brei “in die hemel en net so ook op aarde" (Gen. 12:1-3; Matt. 6:9-10; 6:33; 9:35; Luk 4:43; Gal. 3:8). Die Koninkryk kom as ‘n wêreldwye realiteit en bestaan daar waar die heerskappy van Jesus, deur sondebelydenis, geloof en gehoorsaamheid aan Sy geopenbaarde wil, erken word. (Jes. 9:6-7). Die Koninkryk is ‘n huidige realiteit. Dit bring hoop vir substansiële genesing en restorasie, alhoewel die volheid daarvan nog moet kom. (Matt. 13:33; Luk 11:20; 16:16; 22:15-16; Opb. 11:15; 21:1-5, 23-26).
...Deur dissipels van al die nasies te maak (Mattheus 28:19)
ONS GLO… Die Koninkryk word uitgebrei wanneer individuele mense die Evangelie van die Koninkryk hoor sien en dit deur geloof aanneem, wedergebore word en innerlike vernuwing en transformasie beleef deur die verlossing van Christus in ons en deur “alles te onderhou wat Ek julle beveel het”. (Joh 3:3,16; Hand. 2:21; Rom. 1:16-17). God se besorgdheid strek verder as die verlossing van individuele mense. Sy verlossingsplan sluit die genesing en transformasie van totale nasies in. (Gen. 12:1-2; Matt. 28:19-20).
Nasies word gedissipel wanneer die Kerk die onsigbare Koninkryk sigbaar maak deur volgehoue, getroue gehoorsaamheid aan God se Woord – in elke aspek van die lewe en elke segment van die samelewing insluitend die familie, die gemeenskap, die kunste, die wetenskap, media, die reg, regering, skole en besigheid. (Gen. 1:26-28; 22:18; Deut. 4:5-8; 30:11-20; Kol. 1:18b).
Sy sleutelagent is die plaaslike gemeente (Efesiërs 3:9-11)
ONS GLO… Die Kerk – die liggaam en die bruid van Christus – is God se agent vir die uitbreiding van Sy Koninkryk (Matt 16:18-19; Ef. 1:22-23; 3:8-11). Die uitdrukking van die wêreldwye Kerk is die lewende, liggaam van verloste mense wat hulle geloof en hoop uitsluitlik geplaas het in die persoon en werk van Jesus Christus vir die vergewing van hulle sondes, wat as kinders van God aangeneem is en wat die Gees van God ontvang het as waarborg van hulle erfenis en gehoorsaam daarop reageer.
Die plaaslike gemeente is die uitdrukking van die Wêreldwye Kerk op plaaslike vlak wat gereeld byeenkom vir lofprysing, toerusting, beplanning, gemeenskap en diens en is God se primêre agent in die gemeenskap waar sy dienslewer. (Ef. 2:14-22; 1 Pet. 2:9-10). Ons glo dat die plaaslike gemeente geroep is om as ‘n Koninkryksgemeenskap te lewe en sodoende die boodskap van die Koninkryk kredietwaardigheid te gee as die Liggaam van Christus in die lokaliteit waar sy dien. (1 Kor. 12:4-13; 12:27-28).
Die bediening van die plaaslike gemeente moet holisties wees
(Kolossense 1:19-20)
ONS GLO… God is Here van en oor alles. Daarom is Sy verlossingsplan volledig en allesomvattend. Hy wil deur die Bloed van Christus genesing en restorasie van “alle dinge” in Christus tot stand bring. (Gen. 1:31a; Rom. 8:18-23; Kol. 1:19-20). Die Koninkryk brei uit wanneer plaaslike gemeentes God se besorgheid en Sy omvattende verlossingsplan vir die totale skepping reflekteer en uitleef. (Matt. 4:23; Luk 4:18-21).
Daarom moet die bediening van die plaaslike gemeente holisties wees.
Die gemeente moet die totale mens in sy/haar geestelike, fisiese en sosiale behoeftes bedien. Verder moet dit die mens se verhouding met self, met God, met ander en met die Skepping ondersteun en versterk. (Gen. 1:26-28).
Antwoorde op vrae soos hierdie behoort die agenda van die plaaslike gemeente te bepaal. Hoe sal die gemeenskap lyk indien Jesus Christus burgemeester sou wees? Hoe sal Mosambiek lyk indien Christus president sou wees?
Die bediening van die plaaslike gemeente moet aan Christus gestalte gee (Joh 17:15-19)
ONS GLO… Die Kerk is die Liggaam van Christus, net soos Jesus Christus God in menslike vorm was. Die Kerk manifesteer Christus deur die uitreiking na die stukkende samelewing. (John 1:14; Rom. 13:14a; Ef. 5:1; Fil. 2:5-8). Christus se liefde, selfverloënende diensbaarheid en nederige gehoorsaamheid aan God is veronderstel om baie duidelik deur die plaaslike gemeente gereflekteer te word terwyl die wêreld die Kerk dophou.
Die Drie-enige God is ‘n Gemeenskap tussen die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Om hierdie rede word God se natuur en karakter meer sigbaar in die wêreld wanneer die Kerk, as ‘n gemeenskap, die Koninkrykslewe in die gemeenskap uitleef. (Ef. 4:11-13).
Die plaaslike gemeente moet doelbewus vanuit ‘n Bybelse wêreldbeskouing opereer
(Kolossense 1:15-18)
ONS GLO… Die Bybel is die geïnspireerde, onbetwisbare, volledige, kragtige Woord van God. (Joh 17:17; 2 Tim. 3:16-17). Die Bybel verteenwoordig ‘n omvattende wêreldbeskouing wat die waarheid van God rakende die hoogste vorm van realiteit, die oorsprong van sonde, die natuur en oorsprong van die fisiese heelal, die betekenis en die doel van die menslike lewe asook die doel van die geskiedenis aan alle mense openbaar. Christus se dissipels moet verander word deur die Bybelse wêreldbeskouing.
Hulle moet hulle gedagtes en verstand laat vernuwe deur valse, nie-skriftuurlike wêreldbeskouings van hulle af te gooi wat Satan gebruik om individue en nasies te verslaaf. (Matt 22:37; Rom. 1:18-23; 12:2; 2 Kor. 10:3-5; Kol. 2:6-8; 1 Pet 1:13). Die dissipeling van nasies vereis dat die volgelinge van Jesus Christus die Bybelse wêreldbeskouing sal toe pas en toe laat om elke area van hulle lewe te verlig en om dit dan ook in elke sfeer van die samelewing in te dra. (Jes. 11:9b; Matt. 28:18-20; Joh 8:31-32).