Nuutste Nuusbrief

Gebedsbrief 6/2011

En net toe ons dink die “Kusi” (suide wind) is verby, toe slaan hy weer met mening toe…..

Gister (Dinsdag) was die begin van die Moslems se heilige maand, Ramadaan.  Volgens die kalender moes dit reeds Maandag begin het, maar die nuwe maan was eers Maandagaand sigbaar.  Dit is die teken dat die vastydperk die volgende dag begin.

SIEKES EN BESEERDES

Dit was vir ons wonderlik  dat die man wat laasmaand hier was met sy kind wat malaria gehad het, gekom het om te kom dankie se, en bevestig dat die Moringablare wat hulle gebruik het die kind gehelp het.  Ook het hier twee vrouens aangekom, net so dankbaar.  Hulle het van die Papajawortel- tee (vir hoes) gehoor by die vrou wat met haar kind hier was.  Hulle het dit ook probeer en was dankbaar dat dit hulle en hulle kinders gehelp het.

Dit het ons laat dink om miskien ‘n sessie met die  vrouens te he en ongeveer 4 dinge te bespreek wat mens met natuurlike medisyne kan behandel.  Die dinge op ons lys is hoes , koors, seerplekke en seer oe,  en diarree.    Ons het met iemand hier in die dorp gepraat wat gemoeid is met gemeenskap gesondheid en gehoor wat hy daarvan dink.  “Sal dit die vrouens help?”  Sy gedagte was dat ons dit op ‘n Maandag of Vrydag by die kliniek moet aanbied wanneer daar baie vroue byeen is.  Hy sou dit met die verpleer bespreek en dan terugvoer gee.

Dan was daar ook laasmaand ‘n ou oom by die kliniek met hoe bloeddruk.  Die verpleer het kom vra of ek kan help, want hulle bloeddrukmeter het ‘n gaatjie in.  Ek het self met my meter gegaan om die oom se bloeddruk te meet.   Andre het met die een besoek vir hom gevra of hy vir hom mag bid.  Die ou man vra herhaal asseblief.  Andre se ek wil vir God vra om jou aan te raak en gesond te maak, mag ek?  Hy het so oomblik gedink en se toe net, Vra maar.  Ons het later toe hy terug was by sy huis hom ook daar gaan besoek en die meter saamgevat om weer na sy bloeddruk te kyk.  Hy was gister weer hier by die huis en het gevra ek moet vir hom bloeddrukpille uit SA saambring.  Ek het aan hom verduidelik dat ek nie dit kan doen nie, maar daar is natuurlik dinge (soos die mieliebaard of mieliestronk) wat ons kan gebruik om hom te help.

Ons het Sondag deur Palma gery oppad na ‘n besoek aan een van die buitesones.  Iemand stop ons en se hy het ‘n familielid wat gebrand het en hulle hoor ons het medisyne.  Hy wou die persoon uit die hospitaal gaan haal en Quionga toe bring.  Ons het aan hom probeer verduidelik wat ons met die ander jongman gedoen het wat gebrand het.  En ook dat die salf wat gebruik is amper op is.  Net gister kom hier ‘n jongvrou aan wat ook in die vuur geval het tydens ‘n epileptiese aanval.  Dit het omtrent ‘n maand terug gebeur en sy het 15dae in die hospitaal spandeer.  Die wond lyk egter so erg dat dit nie goed sal wees om ‘n foto daarvan te plaas nie.

Armin het terwyl hy met vakansie hier was, en iemand behandel moes word gevra:  “Dokter mamma alles met sout?”  En die sout raak ook nou op!

Net vanoggend moes Andre ‘n vrou wat hier by die kraamsaal was,  Palma toe neem toe sy begin bloei het.  Vroeer die oggend het ‘n vrou geboorte geskenk en die kleintjie is oorlede.  Andre en ek het toe gewonder  oor die persentasie van sterftes by geboorte.  En of dit enigsins in hulle statistieke gelys word.  

  • Bid asseblief saam vir ons kliniek op die dorp en die werkers daar.  Dit lyk nie asof die persoon in beheer regtig die nodige sterkpunte het vir wat hy moet doen nie.  Dit beinvloed ook die medisyne voorraad en hoe effektief die gemeenskap bedien word. 
  • Bid ook vir die algemene werker wat veronderstel is om skoon te maak.  Dit lyk egter nie of hy al sy pligte nakom nie.  Nog nooit vandat hy hier werk het ons enige beddegoed gesien wat gewas word nie.  Bid ook vir die vrou wat die kraamgevalle hanteer.  Volgens wat ons verstaan is sy nie ‘n opgeleide vroedvrou nie. 

VOEDSELSEKERHEID

Daar is 40 sakke uitgedeel aan produsente en daarvan het ons 18 terugontvang met ‘n gewig van 1326kg.  Daardie mielies is deel van ‘n loodsprogram.  Ons wil dit behandel en stoor tot wanneer daar nie enige ander kos is behalwe kasawa nie, en dit dan in die mark sit teen die huidige prys. 

Die mielies word vir ‘n paar dae in die son gesit om uit te droog en die goggas uit te kry. Die voggehalte was 40% - getoets met my kombuis-vogmeter -  en dit beteken die mielies kan vir tot ‘n jaar gestoor word. Dan word dit gesif om die vuiligheid uit te kry en in die drom gesit waarin dit gestoor sal word.

Foto:  Mielies word in son gedroog.

Mielies_uitgooi_Gebedsbrief_6

Daar word nog gewag vir die ander groep wat sakke gekry het om te laat weet dit is gereed en toe kry ons ‘n boodskap dat hulle nou 2,5mets /kg meer wil he vir die mielies.  Hierdie verhoging in prys is meer as die gedokumenteerde prys  (deur Food for the Hungry) wat in sommige areas per kilogram betaal is.  Andre besluit dat hy dan nie die mielies gaan koop nie en met dit wat hy nou het sal eksperimenteer.

Foto: Mieliestoor    Mielies_stoor_Gebedsbrief_6

TROUE, BESOEKERS EN DINGE

Een van die jongmans in die kerk het ‘n ruk terug besluit hy wil trou, maar die meisie wat hy toe  in die oog het is ‘n Moslem.  Sy was reeds laasjaar saam met Eddy Kambona na Tanzanie waar hy dissipelskap met haar deurgegaan het.  Sy het gese sy wil ‘n Christen word, maar die proses moet nie hier plaasvind nie.  Die families het nou einde ten laas bymekaar gekom en met die twee gepraat.  Die jongman is gevra oor sy geloof en hy het gese hy is ‘n Christen en sal dit bly.  Die jongvrou is gevra en sy het gese sy wil ‘n Christen word.  Haar familie het haar daar summier afgesny.  Sy het drie kinders en hulle het gereel dat die pa van 2 wat op Zanzibar woon sy kinders kom haal.  Die ander een se pa is hier rond en hy is ook aangese om sy kind te kom vat.  Dit, volgens haar familie, gee haar die kans om ‘n “skoon” begin te maak.  Sy bly op die oomblik by die aanstaande skoonouers buite die dorp by hulle land en sal eers terugkom dorp toe wanneer hulle in die huwelik bevestig sal word.  Dit gee hulle ook kans om geestelik in haar in te bou. 

  • Bid asseblief vir geestelike groei vir Zainabo.

Ons verwag die komende week kuiergaste uit SA en hulle sal van Dinsdag tot Maandag hier by ons wees.  Hulle is van Macadonie sending en dit is hul eerste besoek aan die noorde van Mosambiek

  • Bid asseblief saam vir die program vir die tyd en ook vir gebedstye hier by ons. 

Wanneer hulle Dinsdagoggend hier vertrek, val ons saam met hulle in die pad om terug te gaan Pemba toe vir ons DIRE (verblyfpermit) aansoeke.  Ons kan nou aansoek doen vir permanente DIRE, maar die persoon wat dit moet goedkeur  het,  die dag voordat ons die aansoeke  op 14 Julie ingehandig het, met verlof gegaan.  Vir ‘n maand.  Ons hoop en bid dus dat hy dan terug sal wees en dat ons die saak afgehandel kan kry voordat ons terugkeer huis toe. 

Dan ontvang ons ‘n span van ons ankergemeente, Lynnwoodrif.  Hulle besoek is tweeledig.  Eerstens om persoonlike blootstelling aan Quionga te kry en ook om hulle nuwe projek , Mission 4x4, se nooiensrit te doen en te begin om ‘n roete  te beplan wat hulle jaarliks wil diens. 

Ons het ook ‘n besoek gehad van ‘n gemeentelid en sendeling van die gemeente (Louise Beukes)  nadat ons vir Armin op die vliegtuig gesit het.  Louise verteenwoordig die organisasie   GO!, met wie ons in vennootskap, die vertalingsprojek van ‘n paar Bybelstories in Swahili en Makwe aangepak het.  (Meer inligting oor hierdie projek by www.goklub.co.za/projects)  Die rede vir Louise se besoek was onder andere om te gesels oor die vordering, uitdagings en geleenthede van dié projek.   Ons het ook lekker kuiertyd gehad en kon ons oor persoonlik dinge ook praat en saam gesels oor die grootste uitdagings van  “hier-wees” in Quionga.   Louise het ook ‘n klompie boekies  in Swahili saamgebring en ook 6 boekies in Makwe van die storie van Dawid.  As gevolg van die gewigsbeperking op bagasie kon sy egter nie soveel saambring soos wat sy wou nie.  

ALLEDAAGSE GESPREKKE

Dit is moeilik om vir julle te vertel van geestelike gesprekke wat hier gevoer word, want dit vorm deel van gewone alledaagse gesprekke wat gevoer word.  Wanneer die geleentheid hom voordoen in ‘n gesprek word die evangelie egter gedeel.  Andre moes Woensdag weer ‘n verwagtende vrou Palma toe neem en tydens die rit het hy ‘n baie interessante gesprek met Zacarias gehad. 

Foto: Zacarias

IMG_3089_Zacarias

“ Ons is al ‘n geruime tyd aan die praat oor God en sy profete.  Ek wys hom toe daarop dat volgens die Koran is Jesus in die hemel by God en Mohamad het gesterf en is begrawe.  En dat Jesus van homself getuig, in die evangelies, dat hy die weg na God toe is.  Ek vra hom toe tussen die 2 wie kan vir hom die pad na God toe aanwys.  Alhoewel dit duidelik was dat hy die antwoord ken, kon hy net nie dit oor sy lippe kry dat Jesus hom beter sal kan help as Mohamad nie.  Ek het toe verduidelik wat die verskil is tussen om Jesus te volg en om Mohamad te volg en gese hy moet ‘n besluit neem watter weg hy wil volg.”

  • Bid vir ‘n deurbraak in die Makwes se denke.  Bid dat God by hulle soveel  vrae oor hul posisie teenoor Hom sal bring, dat daar ‘n dringendheid by hulle sal ontstaan om Hom te ken.

TAALSTUDIE

Ons het ‘n deurbraak nodig in ons taalstudie. 

  • Bid asseblief  ernstig vir die motivering om te volhard in die aanleer van die taal.