Ruvuma Blog
Kom ons gesels saam....
Die uitreikspan het geleentheid gehad om saam 'n kort artikel vir 'n koerant geskryf. Die artikel demonstreer hoe die span God se hand beleef het tydens die uitreik.
GOD VERANDER DUISENDE LEWENS MET ‘N SENDINGUITREIK.
Deur die uitreik na duisende mense in die omgewing van Mocuba, in die Zambezia provinsie van Mosambiek, het God ons aangespreek op maniere wat ons nie sou kon droom nie.
Op 23 Junie 2011 het drie gewone gemeentelede vanuit die Strand Gereformeerde kerk vertrek na 'n plaas aan die westekant van Pretoria. Altesaam twintig mense vanuit meer as 7 gemeentes van regoor die land - nie almal Gereformeerd nie - het daar saamgetrek om vir 'n naweek lank opleiding te ontvang ter voorbereiding vir die uitreik wat sou volg.
Aangesien ons as gewone mense nie bevoegd is vir die lewensroeping wat voor ons lê nie en ons die uitreik in die diensgestalte van Christus wou aanpak, het ons Darrow L. Miller se Bybelstudie "Servanthood: the calling of every Christian" vooraf deurgewerk. Gedurende die drie weke van die aksie is 'n Bybelstudie oor die sendingperspektiewe van die Matteus-evangelie gedoen.
Maandag, 27 Junie het drie viertrek-voertuie en 'n Toyota Quantum mikrobussie vertrek na Mosambiek. 2800 Km verder het ons by die sendingstasie in Mocuba aangekom wat ons as 'n bassis gebruik het. Dáár is die groep in kleiner groepies verdeel en het 9 kerkies in die omgewing besoek, terwyl die Lukas-gebasseerde Jesus-film saans vertoon is.
Ons doel was om mense toe te rus om self uit te reik en die Boodskap uit te dra aan die sowat 3 miljoen mense in die Noorde van Mosambiek wat nog nóóit vantevore van Jesus Christus gehoor het nie. God het ons egter verras deur veel méér te doen deur ook ons eie harte te verander. Ons prioriteite en lewensuitkyk is totaal en al op sy kop gekeer. 'n Deur is oopgemaak na 'n nuwe lewe. In Mosambiek het kerkies wat slegs op Sondae byeengekom het, nou begin om daagliks in die gemeenskap in te beweeg, huisbesoeke te doen, siekes te besoek en die Woord te verkondig.
Met ons terugkeer het die mikrobussie teen 'n stilstaande trok gebots en God het twee spanlede tot 'n hoër diens geroep. Deur hierdie twee saadjies wat in Mosambiek geneem is, het God 'n groter oes versamel as wat etlike sending-uitreike en duisende kerkbesoeke sou kon vermag. In Mosambiek het gemeentes vier dae sonder ophou gebid en vanuit Suid-Afrika, Holland, België, Brasilië, die VSA, Brittanje en nog baie ander lande is gebedsondersteuning ontvang. Die eenheid in geloof was tasbaar en strek regoor die wêreld.
Daar word gewerk aan 'n joernaal van die volledige aksie waarin vertel word van al die besondere ondervindings.
Die "Servanthood: the calling of every Christian"-Bybelstudie kan verkry word vanaf die webtuiste www.disciplenations.org/books_download.
Daar word tans gewerk aan 'n Afrikaanse weergawe.

Tags: Untagged
Hits: 682
Leave your comment