Handleiding

INHOUDSOPGAWE

1. INLEIDING

2. DIE RUVUMA ONDERSTEUNERS VENNOOTSKAP (ROV)

3.    WERKSWYSES
3.1. LEDEVERGADERINGS
3.2. KOMMUNIKASIE
3.3. ROV DAGBESTUUR
3.4. PORTEFULJES EN FUNKSIES VAN DIE ROV DAGBESTUUR:

4.      STUURSPANNE
4.1.   GESTUURDE / S
4.2.   STUURSPAN-LEIER
4.3.   GEBEDSKOÖRDINEERDER (GK)
4.4.   BEMARKINGS KOÖRDINEERDER (BK)
4.5.   LOGISTIEKEKOÖRDINEERDER (LK)
4.6.   KOMMUNIKASIE KOÖRDINEERDER (KK)
4.7.   FINANSIËLE BESTUURDER (FB)
4.8.   EMOSIONELE ONDERSTEUNER (EO)
4.9.   PERSOONLIKE VERTROUELING (PV)
4.10. VAKKUNDIGE MENTOR (VM)
4.11. BERADER / SIELKUNDIGE (SS)
4.12. TOESIGHOUDENDE LEIER (TL)

5. VOORBEREIDING EN OPLEIDING VAN DIE STUURSPANNE

6. KORTUITREIKE

1. INLEIDING
Die RUVUMA ONDERSTEUNERS VENNOOTSKAP is ‘n netwerk van christene wat vir een doel saamwerk:

Om so effektief as moontlik by die koninkrykswerk van die Here in Noord-Oos Mosambiek betrokke te wees.
Eenvormige werkswyses van samewerking wat op langtermyn resultate gefokus is, is meer effektief is as individuele, sporadiese pogings wat slegs op die korttermyn resultate bring. Die doel van hierdie handleiding is om riglyne te bied en werkswyses aan te moedig wat langtermyn resultate tot gevolg te hê. Omdat hierdie eenvormige, langtermyn gefokusde werkswyses tot voordeel van die koninkrykswerk is, word daar van alle lede van Ruvuma verwag om hulself tot die riglyne wat in hierdie handleiding neergelê is, te verbind.

Terug na die Inhoudsopgawe

2. DIE RUVUMA ONDERSTEUNERS VENNOOTSKAP (ROV)

Die Ruvuma Ondersteuners Vennootskap (ROV) bestaan uit stuurspanne. (Lees meer oor die samestelling en funksies van stuurspanne in paragraaf 4) Die lede van elke stuurspan is vir die meeste van die tyd in twee geografies gebiede verdeel. Die een deel van die span, die “gestuurde /s“, bevind hulself in Noord-Oos Mosambiek en die ander gedeelte van die stuurspan, die “ondersteuners“, bevind hulself in Suid Afrika. Die “ondersteuners“ in die stuurspan ondersteun die “gestuurdes“ in Noord-oos Mosambiek, vanuit Suid Afrika. As gevolg van hul afgesonderdheid is onderlinge versorging van die “gestuurdes“ in Noord-Oos Mosambiek ook belangrik. Alhoewêl die “gestuurdes“ afgesonderd en vêr van mekaar in Noord-Oos Mosambiek is, is hulle fisies nader aan mekaar as wat hul aan hul ondersteuners is. In die geval van ‘n krises, byvoorbeeld, kan een gestuurde vinniger by ‘n ander uitkom om te help, as wat die ondersteuners uit Suid-Afrika daar kan uitkom. Om effektiewe onderlinge versorging te verseker, het die “gestuurdes“ in Noord-Oos Mosambiek die Ruvuma Veld Venote (RVV) gevorm. Vanuit die lede van die RVV word die RVV dagbestuur gekies. Die RVV dagbestuur koõrdineer onderlinge versorging van sy lede in Noord-oos Mosambiek.

Terug na die Inhoudsopgawe

3. WERKSWYSES

3.1. LEDEVERGADERINGS

Een maal per jaar, tipies in Februarie, kom al die stuurspanne bymekaar vir ‘n naweek. Beide die “gestuurdes“ en die “ondersteuners“ van al die stuurspanne woon hierdie jaarlikse “saamtrek“ by. Tydens hierdie “saamtrek“ naweek word die eerste ledevergadering van die jaar gehou, waartydens die nuwe ROV en RVV dagbesture vir die jaar gekies.
Die lede vergader vier keer per jaar, op die datums wat deur die nuut verkose dagbestuur by die eerste vergadering aan die lede voorgehou word vir goedkeuring. Buiten vir die “saamtrek“ word die ander drie ledevergaderings meestal deur die “ondersteuners“ in die stuurspanne bygewoon. Enige “gestuurdes“ wat toevallig op die datum wat ‘n ledevergadering gehou word, hulself in Suid Afrika bevind, sal dan dan ook die ledevergaderings kan bywoon.

3.2. KOMMUNIKASIE

Om effektief te funsioneer vind kommunikasie oor sake wat spesifiek op ‘n betrokke stuurspan van toepassing is, direk tussen die ondersteuners en die gestuurdes van die stuurspan plaas. Kommunikasie wat koõrdinasie of insette van die groter venootskap vereis, word via die ROV dagbestuur en die RVV dagbestuur gedoen.

Die volgende diagram illustreer die lyne van kommunikasie.

rovrvvgrafies


3.3. ROV DAGBESTUUR

Die ROV dagbestuur vergader ook vier keer per jaar, tipies een week voor die vier algemene ledevergaderings.
Aangesien die “gestuurdes“ hul bedieninge meer effektief kan uitvoer indien hul ondersteuning meer effektief is, is die hooffunksie van die ROV dagbestuur om die effektiwiteit van die stuurspanne se ondersteuning te evalueer, aanbevelings te maak en stappe te implimenteer om stuurspanne se effektiwiteit te verbeter. Die besluiteregister van ‘n tipiese dagbestuurvergadering (wat ook as agenda gebruik word) is as AANHANGSEL A aangeheg.

3.4. PORTEFULJES EN FUNKSIES VAN DIE ROV DAGBESTUUR:

3.4.1. DIE VOORSITTER:

  • Lys nuwe sake vir die volgende vergadering se besluitregister (agenda / notule)
  • Stuur die opgedateerde besluitregister, ten minste 10 dae voor die volgende dagbestuursvergdering, uit.
  • Neem leiding tydens die dagbestuur en ledevergaderings.
  • Sorg vir geestelike inset en onderlinge versorging van die dagbestuurlede.
  • Fasiliteer die besprekings oor sake sodat sinvolle konsensus verkry word.
  • Sorg dat die minderheid gehoor word, maar die meerderheid se stem geld.
  • Skakel met ander venootskappe en organisasies wat ook in Noord-oos Mosambiek werksaam is.

3.4.2. DIE ONDERVOORSITTER

Die ondervoorsitter word jaarliks deur die dagbestuurslede vanuit die dagbestuurslede gekies. Die ondervoorsitter sal dus normaalweg een van die ander portefuljes hieronder vul, maar optree as voorsitter waneer die voorsitter nie beskikbaar is nie.

3.4.3. LOGISTIEKE KOÖRDINEERDER

  • Koördineer logistieke behoeftes van stuurspanne sodat vervoergeleenthede tussen SA en Noord-oos Mosambiek optimaal benut word.
  • Koördineer die logistieke reëlings rondom die jaarlikse saamtrek, vergaderings en konferensies.

3.4.4. VENOOTSKAPSBEMARKER

  • Bemark die behoeftes van gestuurdes wat nie genoegsame ondersteuning het nie, om sodoende nog venote en individue by die stuurspanne te betrek.

3.4.5. SEKRETARIS

  • Hou die besluiteregister (agenda / notule) by tydens vergaderings.
  • Hou die register by met kontakbesonderhede van al die lede.
  • Versprei Ruvuma korrespondensie aan die lede d.m.v e-pos.

3.4.6. STATEGIESE BEPLANNING EN PROSESSE

  • Formulering van visie en doelwitte d.m.v strategiese beplanningssessies.
  • Evalueer en verbetering prosesse en werkswyses sodat doelwitte meer effektief behaal kan word.
  • Dokumenteer prosesse en riglyne in die Ruvuma Handleiding.

3.4.7. DIE TESOURIER

Hantering van alle Ruvuma finansiële aspekte, soos:

  • Opdatering van die boekhoustelsel
  • Uitbetalings van fondse soos en wanneer nodig
  • Opstel van finansiële state
  • Voorlegging van state tydens Dagbestuur en Vennotevergaderings
  • Uitstuur van fakture vir lidmaatskapfooie

3.4.8. KONSULTANTE

Ruvuma maak ook gebruik van spesialis konsultante wat hul dienste vrywillig of teen ‘n tarief aanbied.
‘n Voorbeeld van ‘n konsultante waavan Ruvuma gebruik maak, is:

3.4.8.1. Die Member Care South Africa (MCSA) konsultant:

  • Besoek die “gestuurdes“ in die veld en evalueer die effektiwiteit van die stuurspanne se ondersteuning, soos wat dit deur die “gestuurdes“ in die veld beleef word. Lewer verslag aan Ruvuma dagbestuur en die stuurspanne oor die effektiewiteit van elke stuurspan se ondersteuning. Bied toerusting aan stuurspanne waar tekortkominge ondervind word of betrek spesialiste by die opleiding en toerusting van stuurspanne.

3.4.9. ANDER LEDE VAN DIE DAGBESTUUR

Ruvuma kan ook, indien dit van strategiese belang is, enige ander persone nader om vir ‘n sekere tydperk op die dagbestuur van Ruvuma te dien.

‘n Voorbeeld van ‘n so ‘n gekoõpteerde lid, is:

3.4.9.1. Die KGA verteenwoordiger:

Aangesien Ruvuma nou saamwerk word met die IRM (Igrecia Reformada de Mozambique – Die Gereformeerde Kerk in Mosambiek) en daar geskiedkundig ‘n noue band tussen die Sinode van Wes-Kaap en die IRM is, is dit strategies belangrik om ‘n verteenwoordiger van die Wes-Kaap se Kommisie vir Getuienis Aksie (KGA) op die dagbestuur van Ruvuma te hê.

Terug na die Inhoudsopgawe

Die KGA verteenwoordiger:

  • Skakel tussen Ruvuma en die KGA maar ook tussen die Igrecia Reformada de Mozambique (IRM) en Ruvuma, indien nodig.
  • Fasiliteer opleidings- en finansiële ondersteuning vanaf die KGA.
  • Kommunikeer inligting vanaf Ruvuma na die breër NG Kerk.

4. STUURSPANNE

'n Stuurspan bestaan uit ‘n groepie mense wat ‘n gesamentelike visie en roeping van die Here ontvang het om die geestelike en fisiese nood van ‘n sekere groep mense te help verlig. Tipies in ‘n ander land of van ‘n ander kultuur. Die lede van elke stuurspan is vir die meeste van die tyd in twee geografies gebiede verdeel. Die een deel van die span, die “gestuurde /s“ bevind hulself meestal in Noord-Oos Mosambiek en die ander gedeelte van die stuurspan, die “ondersteuners“, bevind hulself meestal in Suid Afrika waarvandaan hulle die “gestuurdes“ in Noord-oos Mosambiek ondersteun. Die lede van die stuurspan verbind hulself tot samewerking binne spanverband, om die gesamentelike visie wat hulle van die Here ontvang het, tot uitvoer te bring. Elke spanlid is medeverantwoordelik vir die uitvoering van die visie en aanvaar binne die raamwerk van spanlid portefeuljes, sekere pligte.

Die portefuljes van ‘n stuurspan kan die volgende insluit:

  • Die Gestuurdes
  • Die Stuurspan-leier (spanbestuurder, projekbestuurder)
  • Die Kommunikasie koördineerder
  • Die Bemarkingskoördineerder
  • Die Gebedskoördineerder
  • Die Logistieke koördineerder
  • Die Finansiële koördineerder
  • Die Emosionele ondersteuner
  • Die Vakkundige mentor.

Een persoon kan meer as een van hierdie portefeuljes beklee of, die verskillende take van een protefeulje kan deur meer as een persoon uitgevoer word. Om deel van die Ruvuma Ondersteunings Venootskap te word, en sodoende die voordele van die ondersteuning en samewerking van die groter groep te geniet, vereis Ruvuma dat die volgende “minimum“ portefuljes van ‘n stuurspan reeds gevul moet wees, voordat Ruvuma lidmaatskap aan ‘n stuurspan toegestaan sal word:

  • Gestuurde /s Stuurspan-leier Bemarkingskoördineerder Gebedskoördineerder Finansiële koördineerder

Terug na die Inhoudsopgawe

4.1. GESTUURDE / S

'n Enkeling, of gesin, met ‘n visie en roeping wat deur ‘n die ander lede van die stuurspan en verkieslik ook, ‘n gemeente gedeel word.
Dié roeping moet deur die stuurspan uiteengesit wees in die vorm van ‘n projekplan, wat duidelik gestruktureerde taakomskrywings en ‘n begroting insluit.
Die projekplan moet ook die voorbereiding en toerusting van die gestuurders, sowel as die stuurders, aanspreek.

4.2. STUURSPAN-LEIER

Die stuurpan-leier dra die finale verantwoordelikheid vir die bestuur, besluitneming en uitvoer van die take van die stuurspan.

Die Stuurspan-leier se take sluit die volgende in:

  • Die opstel en goedkeuring van die jaarlikse projekplan en begroting. Dag tot dag koõrdinering en bestuur van al die ondersteuningsfasette van die projek Skakeling tussen die stuurspan en Ruvuma dagbestuur Reel en leiding neem van gereelde spanvergaderings Motiveer en versorging van spanlede Fasiliteer probleemoplossing, konflikhantering en positiewe samewerking van die span Inisieer, bou en koördineer vennootskapsverhoudings met ander gemeentes Onderhou die kontrak tussen die gestuurdes en die ondersteuners

4.3. GEBEDSKOÖRDINEERDER (GK)

Die GK dra die verantwoordelikheid vir die vestiging, bestuur en onderhoud van ‘n gebedsnetwerk en die reel van gereelde gebedsgeleenthede.

Die take van die GK sluit die volgende in:

  • Om op hoogte te bly van die nuutste gebeure in die veld sodat sake vir gebed aktueel bly en op ‘n interessante wyses deurgegee word. Die skep van ‘n ‘krisislyn’ sodat dringende gebedsversoeke hanteer kan word d.m.v SMS’e en E-posse. Die reël van 24-uur gebedsdekking in geval van ‘n krises. Reël en fasilitering van ‘n gereelde gebedsbyeenkomste vir die stuurspan – ten minste maandeliks tydens die stuurspan vergadering. Implementering van idees om die deurgee van gebedsbehoeftes en hou van gebedsgeleenthede interessant en aktueel te hou. Verskaf terugvoer aan die gestuurdes dat daar vir bepaalde items gebid is

Terug na die Inhoudsopgawe

4.4. BEMARKINGS KOÖRDINEERDER (BK)

Hierdie persoon dra die verantwoordelikheid om die stuurspan se projekte voortdurend te bemark ten einde die volgende ondersteuning te verkry:

  • Gebed Fondse Mannekrag (fisiese hulp) Korttermynuitreike of besoeke aan die “gestuurdes“.

Sonder gebed en fondse, is geen bediening moontlik nie. Die BK neem leiding tydens die beplanning van fondsinsamelingsprojekte en betrek die res van die stuurspan, insluitend die “gestuurdes“, in die beplanning, onderneming en uitvoering van fondsinsamelingsprojekte. Persoonlike kontak tussen die “gestuurders“ en die ondersteuners is van uiterste belang. Die BK moet geleenthede beplan en afsprake reel vir die “stuurders“ om met ondersteuners te skakel, waneer die “stuurders“ in Suid Afrika is tydens tuisbesoek.

Die BK se take sluit ook die volgende in:

  • Verkryging van interessante reklame-inligting (foto's, video's en uitstal-materiaal); Skep / benutting van bemarkingsgeleenthede in eredienste, gemeentes en plaaslike koerante en ander media. Uitvoering van innoverende idees vir funksies en geleenthede om die nuwe donateurs en ondersteuners te werf Deurgee van nuwe ondersteuners se kontak inligting aan die kommunikasie koördineerder

4.5. LOGISTIEKEKOÖRDINEERDER (LK)

'n Term wat verwys na die ondersteuning wat 'n militêre eenheid die nodige toerusting bied sodat die eenheid kan oorleef, rond beweeg en veg. Dit sluit ook, onder andere, die verwydering van soldate uit die veld ("evacuation") en die versorging en toerusting van die soldate terug by die basis. Die LK is betrokke by alle die fases van die projek: Die voorbereidings-, in-die-veld- en terugkeerfase.

Die verantwoordelikhede van die LK sluit die volgende in:

  • Die omsien (en meegaande versekering en verhuring) van die gestuurdes se eiendom in Suid-Afrika, terwyl hulle in Noord-oos Mosambiek is. Koördineer vervoer van die gestuurdes self, hul besittings en toerusting. Koördineer reëlings rondom die stuur van pakkies na en van Mosambiek. Toesien dat die gestuurdes se aftredebeplanning en testament in plek is.

Terug na die Inhoudsopgawe

4.6. KOMMUNIKASIE KOÖRDINEERDER (KK)

Die kommunikasie tussen die gestuurdes en ondersteuners, gemeente(s) en ander vennote word deur die KK bestuur en georganiseer.

Die KK se take sluit die volgende in:

  • die ontvangs, aanstuur, verwerk en beskikbaar stel van relevante inligting aan die ondersteuners dra van die finale verantwoordelikheid vir die uitstuur van die nuusbriewe / gebedsbriewe neem of delegeer die neem van notules van die spanvergaderings hou die databasis met kontakbesonderhede van alle ondersteuners voortdurend op datum Kommunikeer gereeld aan die ondersteuners die geestelike ervarings, mylpale, mislukkings en suksesse van die gestuurdes en stuurspan.

4.7. FINANSIËLE BESTUURDER (FB)

Die FB is verantwoordelik vir die gesonde finansieële bestuur van die fondse van die projek of bediening.

Die take van die FB sluit die volgende in:

  • Die leiding te neem tydens die opstel van die jaarlikse begroting. Deur die jaar die kontantvloei te monitor en die inkomstes en uitgawes te bestuur, soos begroot. Reël vir oorplasings van fondse na die gestuurdes.

4.8. EMOSIONELE ONDERSTEUNER (EO)

Hierdie persoon is verantwoordelik om die gestuurdes en die stuurders se emosionele welstand deurentyd te monitor en oordeelkundig op te tree ten einde konflik, spanning en onsekerhede deur berading aan te spreek.

Die take van die EO behels, onder andere, die volgende:

  • Gereeld met al die spanlede te kommunikeer Pro-aktief op te tree indien emosionele probleme begin vorm aanneem Verseker dat die spanlede voortdurend geestelike opbouende multi-media ontvang.

Terug na die Inhoudsopgawe

4.9. PERSOONLIKE VERTROUELING (PV)

Dot is 'n persoon wat verkieslik nie deel van die stuurspan is nie, wat ‘n vertrouensverhouding met die gestuurdes op-bou. Die gestuurdes moet volkome vrymoedigheid hê om hul behoeftes, vreugdes, twyfel, frustrasie, ens met die persoon te deel.

Die persoon se verantwoordelikhede behels:

  • Voortdurend bou aan die vertrouensverhouding met die gestuurdes. Groot sensitiwiteit en verantwoordelikheid aan die dag lê met die inligting wat deur die gestuurdes aan hom toevertrou word Die inligting wat betrekking het op die geestelike, emosionele en logistieke welstand van die gestuurdes aan die Projekleier oordra soos en indien nodig. Verkieslik met die gestuurdes se toestemming.

4.10. VAKKUNDIGE MENTOR (VM)

Die VM is 'n persoon met vakkundige, (en verkieslik praktiese) kennis en ondervinding van die werk en die omstandighede waarin die gestuurdes hulself bevind. Dit kan ‘n afgetrede gestuurdes, predikant, ander gestuurdes, die geestelike mentor of 'n lid van ‘n sendingorganisasie wees.

Die VM take behels die volgende:

  • Adviseer die stuurspan met die formulering van take wat belyn met die projekvisie en projekdoelwitte. Bedien die gestuurdes met professionele raad oor die inhoud van materiaal wat tydens die uitvoer van take oorgedra moet word aan die groep wat bedien word, en die wyse waarop dit oorgedra moet word.

4.11. BERADER / SIELKUNDIGE (SS)

Hierdie persoon word deur die stuurspan betrek om:

  • Die sielkundige evaluering van die gestuurdes en die span te doen tydens die formalisering van die vise en projekdoelwitte, om sodoende seker te maak dat die gestuurdes gereed is om kruis kultureel uit te reik en die span emosioneel gereed is om hulle te ondersteun. Sielkundige berading sessies aan die gestuurdes te bied ten tye van tydelike of permanente terugkeerfase.

4.12. TOESIGHOUDENDE LEIER (TL)

Dit is die persoon, in die veld, aan wie die gestuurdes rapporteer. Tipies ‘n lid van die kerk of organisasie onder wie se toesig die gestuurdes in die ander land werk.

Die take van die TL sluit die volgende in:

  • Die opstel en teken van 'n kontrak tussen die plaaslike organisasie en die gestuurdes, wat:
  • die rol en pligte van die gestuurdes duidelik uitspel
  • die verwagtinge van die organisasie lys oor hoe die gestuurdes moet optree teenoor ander lede van die organisasie sowêl as teenoor die plaaslike bevolking.
  • Om gereeld met die projekleier in Suid-Afrika te kommunikeer oor die welstand en versorging van die gestuurders.
  • Die stuur van ‘n jaarlikse bedieningsverslag aan die projekleier oor die gestuurdes se werksaamhede van die afgelope jaar.

Terug na die Inhoudsopgawe

4.12. Riglyne vir kortuitreike

  1. Ons as kerk het baie hoë waardering vir die wyse waarop die werk van ons kerk in Mosambiek gesteun word deur spanne uit Suid-Afrika. Die Here is waarlik besig om ‘n nuwe ding te doen deur die opofferende ywer en toewyding wat u motiveer om op so wyse in hierdie deel van die Meester se werk betrokke te wees.
  2. U sal reeds opgemerk het dat die volksgroep na wie u uitreik gewoontes en gebruike het t.o.v hoflikheid, eerbied-betuiging, verhoudings tussen geslagte en nog baie ander sake wat soms ver verskil van waaraan ons gewoond is. Sommige dinge wat vir hulle goeie maniere is gee vir ons aanstoot, en sommige dinge wat vir ons aanvaarbaar is, is vir hulle taboe.
  3. Party van die dinge word met ‘n glimlag aanvaar – ander weer kan in hulle oë nie met die gedrag van ‘n gelowige vereenselwig word nie, en maak hulle geslote vir die aanvaarding van die Evangelieboodskap.
  4. Veral in oorwegend Moslem-samelewings moet gewoontes en gebruike baie versigtig hanteer word. Daarom wil ons vra dat spanleiers die volgende boekie deeglik sal bestudeer voordat u ‘n groep na Mosambiek neem: Deon Loots: Korttermynuitreike in Afrika (Beskikbaar by die Wes-Kaapse Sendingkantoor).

Terug na die Inhoudsopgawe

In kort vestig ek net u aandag op die volgende:

4.1. Kleredrag

  1. In elke samelewing is daar sekere kleredrag wat aanstoot gee. In die Mosambiekse platteland moet vrouens nie lang of kortbroeke dra nie. Langbroeke kan gedra word as daar deurentyd ‘n lap (Kapulana/sarong) volledig omgedraai word, sodat die langbroek slegs onder die kniee sigbaar is. Moulose rokke kan met vrymoedigheid gedra word.
  2. Mans kan maar kniebroeke dra. Kortbroeke met ‘n hoë snit word net deur die kinders gedra d.w.s kortbroeke (eintlik kniebroeke) moet liefs nie korter as ongeveer 5cm bo die knie wees nie.

4.2. Sterk drank

Die gebruik van enige alkoholiese drank in Mosambiek moet liefs heeltemal vermy word, omdat inwoners van die land nie onderskeid maak tussen matig drink en dronk word nie. Die Moslem-geloof verbied ook enige gebruik van alkohol.

Daarom vra ons ernstig dat ons besoekers die gesindheid van gestuurdes Paulus sal openbaar:Dit is goed as ‘n mens nie vleis eet of wyn drink of enigiets doen wat jou broer laat struikel nie.(Rom.14:21)

4.3. Rook

Tabakrook word eweneens vereenselwig met ongelowiges of swak Christene. Dit word ook deur Islam afgekeur. Daarom vra ons dat u asseblief nie op ons sendigstasies sal rook nie. Ons moet immers niks doen wat ons getuienis mag skaad nie.

4.4. Kontak tussen geslagte

Kontak tussen die verskillende geslagte is ‘n baie sensitiewe saak vir die Mosambiekers. Omdat hulle vrye kontak tussen mans en dames baie anders sien as ons, versoek ons dat spanlede asseblief liggaamlike kontak soos hande vashou, soen of drukkies sal vermy.

4.5. Taal

Wat taalgebruik en lyftaal betref moet ons asseblief seker maak dat wat ons sê en doen tot bevordering van die evangelie is. Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie, praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom. (Ef.4:29)

4.6. Plaaslike kinders

Kontak met die plaaslike bevolking vind dikwels plaas d.m.v. die kinders. Ongelukkig was daar al in die verlede misverstande. As kinders gebruik word om met enigiets te help moet hulle ouers eers gekontak word en vooraf goedkeuring van hulle af verkry word. Enige vorm van vergoeding moet dan ook in die teenwoordigheid van ouers en een van die sendingpersoneel gereël word.

4.7. Skenkings

Alle skenkings wat die span wil maak moet asseblief in oorleg met die plaaslike gestuurdes of leraar gemaak word.

4.8. Evangelisasie

Alle programme moet vooraf in samewerking met die tuiskommitee en die werkers op die veld gedoen word. Evangelisasie-uitreike staan onder die direkte toesig van die sendingpersoneel, sodat metodes en gebruike ooreenstem met dit wat in die plaaslike gemeenskap aanvaarbaar is. Daar word dus versoek dat sulke uitreike vooraf in samewerking met die personeel waar daar gewerk word, beplan en gereël word.

4.9. Toesig

Spanleiers en gemeentes moet asseblief ‘n onderneming van elke spanlid verkry om met sensitiwiteit teenoor die plaaslike bevolking op te tree en hul kultuur in ag te neem. Sien die opoffering maar as deel van ‘n vastyd vir die geestelike stryd waarin ons verkeer. Van spanleiers sal ook verwag word om toe te sien dat hulle spanlede nie aanstoot gee of ‘n swak getuienis is nie. Ons is bewus van al die opoffering wat u as span bring om die Koningkryk van God te dien. By al hierdie opofferings vra ons dat u bostaande ook in ag sal neem, sodat ons pogings nie deur onbedagsame optrede tot niet gemaak word nie.